Leierstryd woed in Britse Arbeiders

Die omstrede leier van die Britse Arbeidersparty kan moontlik sy pos kwyt wees binne die volgende paar dae, maar talle ondersteuners hoop dat hy eerder betyds sy bedanking sal aankondig.

Jeremy Corbyn staar ’n leierskap uitdaging in die gesig, en kan dalk ’n vernedering gespaar word deur betyds te bedank, sê diegene wat teen sy leierskap beswaar aanteken.

Die voormalige skaduminister van handel, Angela Eagle het intussen die 60 nominasies in haar hand van mede-Arbeidersparty parlementslede om ’n leierskapuitdaging te rig.

Sy het na bewering ook ’n span gereed om haar te ondersteun tydens die veldtog om as leier verkies te word.

In teenstelling met die huidige leier, Jeremy Corbyn, geniet die dame wye steun van haar partygenote, en wag net om te sien of hy nie uit vrye wil bedank as leier nie.

Corbyn glo egter dat die toeloop van nuwe lede na die Arbeidersparty na afloop van die referendum, ’n mosie van vertroue in hom as leier van die party is, en sal waarskynlik nie bedank nie.

Arbeidersparty se lede hou tans asem op dat die gesprek tussen Corbyn en Tom Watson goed sal verloop, want as dit nie gebeur nie gaan die party middeldeur skeur en lui die Arbeidersparty se doodsklok.

Intussen het die kiesafdeling van Angela Eagle in ’n verklaring bekend gemaak dat hulle steun steeds by Corbyn lê as leier van die party.

Watson het egter gesê die gesprek met die leier van die party kan lei tot ’n ooreenkoms, maar een deel van die ooreenkoms sal wees dat Corbyn as partyleier sal bedank.

Foto – Jeremy Corbyn