Le Pen eis minister se bedanking

Die dood van 84 onskuldige mense in Frankryk wat deur ’n Islamitiese Staat-terroris veroorsaak is, het die gemoedere weer laat opvlam oor vreemdelinge se teenwoordigheid in die land.

Marine Le Pen, die leier van die regse Front Nasionaal, eis dat die Franse minister van binnelandse sake ontslaan word uit sy pos.

Le Pen sê in ’n verklaring die Franse minister van binnelandse sake, Bernard Cazeneuve is skuldig weens die ernstige tekortkoming van die staat in die lig van die opeenvolgende terreuraanvalle sedert 2015.

Sy wys daarop dat enige minister regoor die beskaafde wêreld met so ’n verskriklike reeks voorvalle waar 250 mense gedood is binne 18 maande, self uit sy amp sou bedank het, of minstens ontslaan sou word.

Frankryk het reeds drie terroriste aanvalle gehad in die afgelope 18 maande, en verkeer reeds geruime tyd in ’n noodtoestand wat deur die president aangekondig is.