Kans op sukses vir appèl skraal

Die aansoek van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) om teen Oscar Pistorius se vonnis van ses jaar tronkstraf te appelleer, gaan volgens regskenners dalk nie slaag nie.

Daar sal eers bewys moet word dat die vonnis wat regter Thokozile Masipa op 6 Julie opgelê het werklik onvanpas lig is, meen van hulle.

Die staat sal dus onomstootlik moet kan bewys dat sy ‘n foutiewe uitspraak gemaak het voordat die saak sal kan voortgaan.

Indien regter Masipa bevind dat daar nie ‘n redelike kans is dat die staat se appèl kan slaag nie, sal sy volgens regslui die aansoek om verlof tot appèl weier.

Sou dit wel in die appèlhof beland, sal die hof kyk na die opgelegte vonnis en na watter vonnis hyself sal opgelê. As daar nie ‘n groot verskil is nie, sal die appèlhof nie inmeng nie.

Nog ‘n roete is dat die staat ‘n petisie tot die appèlhof kan rig indien regter Masipa die aansoek om verlof tot appèl weier.

Dan moet eedsverklarings ingesluit word waarin die grondslag van die aansoek uiteengesit word, aldus ‘n regsman.

Dit is egter die einde van die staat se opsies indien die appèlhof sou weier.