Italiaanse polisie betrap geld vervalsers

In die Suid-Italiaanse gebied van Kampanië, het die land se polisie beslag gelê op sowat 6,5 miljoen vervalste euro banknote.

Die polisie se woordvoerder in Napels sê tydens die klopjag is drie vervalsers op heterdaad betrap terwyl hulle besig was om van die vervalste 20-euro banknote te druk.

Die polisie sê hulle was verbaas om die vervalsers se gesofistikeerde toerusting te sien waarmee die banknote gemaak word wat byna nie onderskei kan word van die regte note nie.

Die drie vervalsers is agter tralies, en twee vroue wat in die gebou gewoon het, is onder huisarres geplaas.

Derduisende banknote van 20, 50 en 100 euro is reeds gedruk en het in houers gestaan, waarvan die totale waarde op sowat 6,5 miljoen euro beraam word.

Die polisie sê die banknote is verpak in houers om versend te word na ander gebiede in Europa.

Intussen is aangekondig dat die euro banknote verander gaan word ten einde vervalsing te bemoeilik.