IS skiet Russiese helikopter af

Vegters van die Islamitiese Staat (IS) het daarin geslaag om ’n Russiese weermag helikopter neer te skiet in die noordelike streke van Sirië.

Beide vlieëniers van die helikopter is in die voorval gedood waartydens ooggetuies beweer die Mi-25-helikopter is neergeskiet deur ’n Amerikaanse anti-tenk missiel.

Die voorval het die naweek plaasgevind in die omgewing van Palmyra en IS-terroriste het foto’s van die neergeskiete helikopter op die internet gesit en juigend verklaar dat hulle verantwoordelikheid daarvoor aanvaar.

Rusland het intussen bekend gemaak dat hy die helikopter en twee vlieëniers verloor het in die Palmyra omgewing, maar nie aangedui wie daarvoor verantwoordelik is nie.

Rusland het nou reeds twee vliegtuie en tien weermagmanne in Sirië verloor sedert hy verlede jaar betrokke geraak het in die stryd teen die terroriste.

Dit is bekend dat Amerika van sy missielafweerstelsels aan die Siriese rebelle beskikbaar gestel het met die doel om dit teen die regeringsmagte te gebruik, maar wat later deur die Islamitiese Staat gekaap is.

Russiese woordvoerders sê die helikopter was op sy terugtog na hul basis toe dit onverwags neergeskiet is.