Hoewe slagoffer vertel van trauma

In ‘n hoewe-aanval in die Boschkop-omgewing, oos van Pretoria het vier aanvallers die afgelope week ‘n vrou ernstig aangerand en gedreig.

Die vrou (60 jaar), wat anoniem wil bly, het vertel hoe sy net ‘n dag voor die moord in dieselfde omgewing op die oud-tydrenjaer en fietsry-kampioen, Jan Hettema, oorval en aangerand is.

Te midde van die aanranding waaraan sy onderwerp is, is sy gedreig met ‘n vuurwarm strykyster en ‘n vuurwapen wat ‘n paar keer teen haar slaap gedruk is.

Sy is ook gedreig dat haar vingers een vir een afgesaag sal word en sy met ‘n klip om haar nek in die plaasdam gegooi sal word.

Haar man (63 jaar) was nie tuis tydens die voorval nie.

Die aanvallers het kontant, juweliersware, klere en ‘n vuurwapen geroof en met die vrou se Opel Astra ontvlug.

Die aanval op die vrou was een van drie in minder as ‘n maand in die betrokke gebied. Die aanval op haar en die moord op Hettema het gedurende die dag plaasgevind.