Heliumgas is ontdek in Tanzanië

Britse wetenskaplikes het die week bekend gemaak dat die ontdekking van die skaars heliumgas gebruik kan word vir wetenskaplike projekte wat tot op hede nie uitgevoer kon word nie weens die skaarste van die gas.

Navorsers sê die ontdekking van die sowat 22 miljard kubieke meter gas in die suidelike gebied van Tanzanië kan voorsien in die totale aanvraag van die wêreld vir die volgende sewe tot agt jaar.

Prof. Chris Ballantine van die Oxford Universiteit wat betrokke was by die toetse van die ontdekte gas, meen daar is genoeg gas om meer as 1,2 miljoen mediese “MR” skandeerders vol te maak.

Helium word onder meer gebruik in ruimtevaarttegnologie, weerballonne word daarmee die lug in gestuur om weervoorspellings te maak, is nodig in die vervaardiging van gesofistikeerde teleskope en gee plesier aan kinders wat met die gasgevulde ballonne speel.

Tot op hede is klein hoeveelhede heliumgas slegs gevind waar boorwerk gedoen word vir olie ontginning van ru-olie.