Graf van 32 Bataljon lid herstel

Die beskadigde graf van ‘n jong lid van 32 Bataljon, Johan Meyer, gaan herstel word nadat ‘n skenking van R10 000 ontvang is.

Die voorsitter van SA Weermag Militêre Veteraanvereniging (Swartberg-sektor), Jaco Steenberg, het gesê ‘n anonieme borg het die bedrag beskikbaar gestel, en daar is nou altesaam R11 500 om die graf te herstel.

Die graf van Meyer, wat in 1987 in Angola tydens die grensoorlog gesterf het, is in Mei vanjaar beskadig en ‘n beeld op graf is ook gebreek.

Meyer (20 jaar) het op 25 November 1987 gesterf toe ‘n Ratel in ‘n geveg deur ‘n mortier getref is. Hy het omgekom slegs ‘n paar weke voordat hy sy diensplig sou voltooi.

Die beeldjie word deur Jaco van Niekerk van Meyerton teen ‘n laer prys herstel. Hy het die vereniging genader en aangebied om die herstelwerk te doen.

Hy sal op 3 September die beeldjie na Oudtshoorn neem sodat weer op die graf geplaas kan word. Tydens die geleentheid sal die graf skoongemaak en die geskrif ook weer mooi gemaak word.

Familie van Meyer beoog ook om dan teenwoordig te wees. Twee van Meyer se broers leef nog, maar sy ouers is oorlede.

Die vereniging werk saam met ’n ander organisasie vir oudweermaglede op Oudtshoorn, die Memorable Order of Tin Hats (Moths), om die graf te herstel.

Foto – Meyer se beskadigde graf