Geweld beïnvloed stembasis

Die geweldpleging in veral Pretoria en ook ander stede in Suid-Afrika het die regerende party se gewildheid geknou, aldus die jongste Ipsos-meningspeiling.

Die DA se steun in Pretoria is nou 42% teenoor die ANC se 23% en die EFF se 11%

Volgens 35% van die respondente in Pretoria sal die geweld hulle beïnvloed oor waar hulle hul kruisies op 3 Augustus trek. Nagenoeg 15% is onseker of het geweier om te antwoord omtrent hulle stemkeuse.

In Johannesburg het 22% en in Port Elizabeth het 26% aangedui dat geweld hulle sal beïnvloed wanneer hulle stem.

In Johannesburg is die DA (33%) in ‘n bykans gelykop stryd gewikkel met die ANC (31%) en die EFF het ‘n 11% steun, terwyl 16% nie wou onthul wie hulle steun nie.

In Port Elizabeth het die DA 39% steun en die ANC 27% en die EFF 7%, terwyl 15% nie wou sê wie hulle steun nie.

Die SAKP het as die ANC se alliansievennoot die Ipsos se peiling in Pretoria as misleidend en polities bevooroordeeld afgemaak.

Volgens die SAKP het die ANC steeds die meerderheidstem in Pretoria.