Gevry na blanke stem het vals note

Die regerende party het klaarblyklik hard gevry na blankes se stemme in die Vrystaat en het ‘n skielike liefde ontwikkel vir Afrikaaans, blanke dokters en ingenieurs asook boere, maar dit klink asof daar voorvereistes aan gekoppel is.

Die Vrystaatse premier, Ace Magashule, het tydens ‘n geselligheid vir minderheidsgroepe sover gegaan om te sê die ANC sal die grondwet eerbiedig en nie blankes die see injaag nie.

‘n Vrystaatse LUR en die ANC se burgemeesterskandidaat vir Bloemfontein, Olly Mlamleli, het weer vertel hoe lief sy vir Afrikaans sou wees en het die versekering gegee dat die ANC-regering nie sonder professionele blanke dokters, aptekers en ingenieurs kan klaarkom nie.

Volgens haar moet blankes na vore kom en sê hoe hulle die regering gaan help om die ekonomie op te bou om werk te help skep. Sy het bygevoeg ingenieurs verlaat die land, daarom moet Kubaanse ingenieurs gaan koop word.

Volgens haar is (blanke) boere belangrik om voedselsekerheid te verseker.

Die Vrystaatse provinsiale regering het onder Magashule se bewind egter tot op datum berug geraak vir ‘n besondere voorliefde vir Kubaanse dokters en ingenieurs.

Mlamleli se uitlatings getuig daarvan dat die ANC baie deeglik bewus is van die kritiek, maar uiteindelik in die praktyk voortgaan volgens die voorbeeld van hul president Jacob Zuma.

Benewens haar voorwaarde dat blankes moet vertel hoe hulle die ekonomie gaan ontwikkel en werk skep, is haar teikengroep ook ‘gevra’ om grond beskikbaar te stel sodat “gemengde huisvesting” daarop ontwikkel kan word.

Die tipiese verkiesingspraatjies kan moontlik daartoe herlei word dat die uiters vrot gaan in die Vrystaat en ook omdat die ANC volgens meningspeilings in ander metrorade nie te waffers vaar nie.

Op plaaslike owerheidsvlak is die ANC se rekord soos volg: 92% munisipaliteite in die land is aldus die jongste verslag van die ouditeur-generaal in ‘n geldelike verknorsing weens wanbestuur.