Genesing van asma word moontlik

Tot op datum was daar slegs een oplossing, en dit om verligting te bring vir mense wat aan asma ly, maar genesing is nie moontlik met die kennis waaroor medici beskik nie.

Wetenskaplikes is egter hoopvol dat hulle nou ’n deurbraak gemaak het wat genesing kan meebring vir asmalyers.

Die navorsers sê die genesing kan bewerkstellig word as die gene wat dit veroorsaak, “afgeskakel” kan word deur ’n vaste prosedure te volg.

Die navorsers van die Universiteit van Southampton in Brittanje het bevind dat ’n menslike gene, bekend as ADAM33 asma veroorsaak deur onder meer die lugweg te vernou wat asemhaling belemmer.

Dit word deur die liggaam gebruik om ensieme te produseer wat normaalweg help om beskadigde spiere te herstel.

Met asmalyers word die funksie vinniger toegepas op plekke waar herstel nie nodig is nie, met die gevolg dat die lugweg ook vernou.

Die wetenskaplikes sê ’n geneesmiddel sal spoedig beskikbaar gestel kan word, maar verdere navorsing is nodig.

Die navorsers sê die toetse wat gedoen is, toon dat mense baie gou beter word as daarin geslaag word om ADAM33 “af te skakel”.

In die toetse om allergieë teen te werk is stofmyte gebruik, en kon die pasiënte wat as gevolg van die stof, vernouings in die lugweë ondervind het, baie gou verligting kry deur die korrekte behandeling.