Geen bom in restaurant by NWU gevind

Die polisie se plofstofeenheid het die gebou waarin die Drakenstein-restaurant op die Noordwes Universiteit (NWU) se Potchefstroom-kampus gefynkam ná ‘n bomdreigement ontvang is, maar het geen bom gevind nie.

Die restaurant en onmiddellike omgewing is dadelik ontruim en afgesper nadat die polisie gister laatmiddag “die Universiteit ingelig het dat hulle ‘n bomdreigement op die kampus in die restaurant ontvang het,” aldus ‘n inskrywing op die amptelike sosiale mediablad van die instelling.

Die rektor van die NWU se Potchefstroom-kampus, prof. Fika Janse van Rensburg, het namens die instelling die polisie en studente bedank vir “besondere goeie samewerking tydens hierdie voorval”.