Franse sê trokbestuurder was IS gesinde

Die Franse eerste minister, Manuel Valls, sê die trokbestuurder wat in Nice verantwoordelik was vir die dood van minstens 84 mense, sonder twyfel ’n radikale Islamitiese verbintenis gehad het.

Premier Valls het verlede Vrydag tydens ’n TV-onderhoud gesê die optrede van die man is tiperend van die radikale terroriste.

Etlike ure later het die Franse minister van binnelandse sake, Bernard Cazeneuve, op ’n ander TV kanaal tydens ’n onderhoud gesê daar kon nog nie ’n verbintenis tussen die vragmotor se bestuurder en die IS-terroriste gevind word nie, alhoewel daar sterk vermoede bestaan dat daar ’n verbintenis is.

Die eerste minister het ook daarop gewys dat die gebeure aanleiding gegee het tot Frankryk se beplande groter betrokkenheid in die Siriese en Irakse geveg teen die Islamitiese Staat deur nuwe “versterkings” te stuur.

Minister Valls sê die veiligheidsmagte gaan vasstel wie agter alles sit, en sal uiteindelik die stryd teen terrorisme wen, alhoewel dit nog geruime tyd kan duur.

Intussen het die Franse polisie vier verdagtes aangekeer wat verbind word aan die optrede van die vragmotorbestuurder.

In ’n berig wat Saterdagmiddag op die sosiale netwerk van die terroriste verskyn het, neem die IS-leiers verantwoordelikheid vir die aanval, en sê die vegter het gehoor gegee aan hulle versoek om die daad te verrig.

Foto – Premier Manuel Valls