Frankryk slaan terroriste aan flarde

Die Franse weermag het in samewerking met die internasionale koalisie-magte ’n vernietigende aanval uitgevoer op basisse van die Islamitiese Staat.

Die aanvalle wat in die terroristies beheerde gebied van Mosoel uitgevoer is, het chaos en paniek onder die vegters veroorsaak.

Intussen het die ministers van buitelandse sake uit 30 lande byeengekom om nuwe optrede teen die terroriste te beplan..

Mosoel is die grootste stad wat nog in beheer van die terroriste is, en word beskou as net so belangrik as wat Raqqa vir die IS-magte is.

Die stad is sedert 2014 onder terroriste se beheer en inwoners word as gyselaars en buffer teen moontlike aanvalle van die weermag gehou.

Pogings deur die Irakse weermag om die stad van terroriste te bevry het telkens misluk, maar nuwe moontlikhede word ondersoek terwyl Frankryk met vernietigende aanvalle begin het.

Pogings deur die VSA het klaaglik misluk om die stad te bevry, maar dit blyk of Frankryk veel groter sukses behaal.

Kenners wys daarop dat die terroriste vegters juis om die rede Frankryk as hoofteiken gestel het vir terreuraanvalle.

Na die vragmotor aanval in Frankryk het die Franse weermag meer as 400 IS-vegters gedood in aanvalle, en word nog hewiger aanvalle beplan om Mosoel te bevry.