Finland en Poetin in gesprek oor Navo

Die Russiese president, Vladimir Poetin, het die naweek daarop gesinspeel dat Rusland sal optree en troepe sal ontplooi aan die Finse grens indien Finland sou aansluit by Navo.

“Finland se weermag sou ’n deel vorm van die militêre infrastruktuur van Navo, wat beteken die Finse magte is aan die grens van die Russiese Federasie”, het president Poetin gesê.

President Poetin het besoek gebring aan die Finse president, Sauli Niinistö, kort nadat die gerug ontstaan het dat Finland moontlik lid van Navo kan word.

Tydens die ontmoeting het Poetin nie gehuiwer om ’n waarskuwende woord te rig toe hy gesê het Rusland sal verplig wees om honderde troepe te ontplooi langs die Finse grens om sy eie belange te beskerm.

Hy het ook bekend gemaak dat hy beplan om samesprekings te voer met die Navo-leiers om die voorkoming van konflik te bespreek wat kan ontstaan in die Oostelike see gebiede.

President Sauli Niinistö het gesê almal in Europa is bewus daarvan dat die Oostelike See deur baie lande gebruik word, en die potensiaal vir konflik baie hoog is.

Rusland het reeds verskeie kere gekla dat die Amerikaanse vegvliegtuie die lugruim oor die gebied geskend het, en verskeie buurlande in die streek het weer gekla oor Rusland se skendings.

Foto – Pres. Poetin en pres. Sauli Niinistö