Europa – Stank vir dank

Gedurende 2015 het die Duitse Bondskanselier, Angela Merkel, die koerante se voorblaaie oorheers met haar “oop deur” benadering ten opsigte van die migrante afkomstig uit veral Moslem-lande soos Sirië, Irak en Afganistan.

Sy het verskeie Europese lande soos Pole, Oostenryk en Denemarke verkwalik omdat die lande met hulle konserwatiewe regerings nie bereid was om die sogenaamde “oop deur” benadering te volg nie.

Met slagspreuke soos “Europa kan dit doen” is die grense tussen Europese lande oopgegooi vir die migrante om te beweeg na lande van hulle keuse waar hulle dan ook aansoek om asiel kon doen en maandeliks ’n stewige bedrag geld en verblyf kon ontvang terwyl hulle werkloos is.

Die waarskuwende woord van regse leiers in Europa het geen verandering teweeggebring in die benadering nie, en terroriste het saam met die sogenaamde vlugtelinge, ongehinderd Europa binnegestroom.

Met die eerste terreuraanval in Parys het Merkel en haar ondersteuners stiller geword en namate die een na die ander terreuraanval Europa getref het, het sy al minder daaroor gepraat en haar lyf skaars gehou vir die media.

Die spreekwoordelike hand wat die hond gevoed het, is deur dieselfde hond gebyt, en binne vier dae kry Duitsland, net soos Frankryk en België, stank vir dank deur terroriste wat gratis skuiling kry en dan nog betaal word om uiteindelik ’n wandaad te pleeg.

Die wêreld treur oor die aanvalle. Die Westerse lande treur oor Europa wat ontaard het in ’n slagveld van terrorisme. Die regdenkende mense treur omdat Europa ’n markplein vir terroriste geword het weens die kortsigtigheid van politieke leiers.

Dit wat nou in Europa gebeur, het twee dekades gelede in Suid-Afrika gebeur toe terroriste die heersers van ’n Westerse land geword het wat op vele terreine ’n wêreldleier geword het, maar nou in ’n piesangrepubliek ontaard het.

Is dit ook Europa se voorland as dieselfde politieke leiers ongehinderd voortgaan om terroriste te vertroetel?