Nog ‘n vrou vermis in Natalse stormweer

‘n Vrou het in Durban vermis geraak terwyl sy in gietende reën huis toe gery het.

Brenda Scriven (62-jaar) se motor is in Glen Anil gekry waar dit deur die reënwater van die pad gespoel is.

Sy was op pad huis toe na werk en haar dogter, Lindy Swales, het bekommerd geraak toe toe sy nie by die huis opgedaag het nie. Sy kon haar nie op haar foon in die hande kry nie. Uiteindelik het ‘n man geantwoord en gesê hy het gesien haar motor is deur die water meegesleur en het gestop om te help.

Daar het ‘n man in die motor gesit en toe hulle aan ‘n venster klop, het hy weggehardloop.

Haar handsak, sleutels en selfoon is al wat in die motor agtergebly het, sê Swales.

‘n Vrou by ‘n besigheid naby aan waar die motor gevind is, het vertel sy onthou ‘n vrou wat met die pad opgestap het, maar daar is volgens Swales geen teken van haar ma gekry nie.

‘n Soektog is na Scriven geloods, maar dit het tot dusver niks opgelewer nie.

In nog ‘n geval het die polisie en reddingswerkers na ‘n vrou gesoek in ‘n rivier by Silverglen, Chatsworth nadat ‘n vrou vermis geraak het toe haar motor van ‘n laagwaterbrug gespoel is.

Die soektog is in die aand opgeskort.

Foto – Brenda Scriven