Duitse bank sluit talle takke

Duitsland se grootste bank het in ’n verklaring bekend gemaak dat hy beoog om sowat 188 handelstakke regoor die land te sluit.

Die sluiting volg nadat Deutsche Bank die afgelope paar jaar sukkel om finansieel kop bo water te hou.

Die Bank wat sy hoofkantoor in Frankfurt het, beplan om al 188 takke wat geïdentifiseer is, gedurende 2017 te sluit.

Die deelstaat Noord Ryn-Wesfale sal die ergste geraak word deur die sluiting van 51 takke terwyl 43 takke in Berlyn gesluit gaan word.

Deutsche Bank het tot hede 723 takke in Duitsland, en met die sluiting van 188 takke sal die oorblywende takke in die stede aansienlik vergroot word om ’n doeltreffende diens te handhaaf.

Christian Sewing, die hoof van die Bank se afdeling vir privaat kliënte het gesê die maatreël word getref omdat al meer kliënte hulle wend tot internet bankdienste en gevolglik net by uitsondering ’n handelstak besoek.

In 2015 het die Bank ’n netto verlies van 6,8 biljoen euro gehad, wat die bestuur en direksie gedwing het tot die jongste maatreëls, en die sluiting bring mee dat sowat 3,000 mense hulle werk sal verloor.