Drie verdagtes beweer polisie rand hulle aan

Drie van die vier verdagtes wat in die Roodepoortse landdroshof in verband met die afspraak-moorde verskyn het, voer aan hulle is in aanhouding deur die polisie aangerand.

Le Roux Steyn (21 jaar) en sy suster, Marcelle (18 jaar),  Fabian Luff  en Christiaan Kruger word daarvan aangekla dat hulle ‘n eiendomsagent en twee versekeringsmakelaars oor ‘n tydperk van drie weke vermoor het.

Almal, behalwe Luff het aangedui dat hulle om borgtog aansoek doen.

Victor da Silva wat die ander drie verteenwoordig, het aanvanklik gevra dat die media en publiek nie teenwoordig moet wees tydens die borgaansoek nie omdat dit sou lei tot intimidasie deur plaaslike inwoners.

Die versoek dat die verrigtinge in camera moet geskied, is egter van die hand gewys.

Kruger asook Le Roux Steyn en sy suster het in hulle onderskeie verklarings aangevoer dat die polisie hulle aangerand het en van hulle gedreig het.

Aldrie het aangedui dat hulle onskuldig gaan pleit.

Uitspraak omtrent die borgaansoeke sal op 13 Julie gelewer word.

Foto – Kevin Mc Alpine (links bo), Anthony Scholefield en Hanlé Lategan (regs)