Cosatu dreig oor plaaswerkers op stemdag

Die ANC se alliansie-vennoot, Cosatu, het boere “gewaarsku” oor wat die vakverbond aanvoer ‘n “onwilligheid” is om “werkers vry te laat” om op 3 Augustus in die munisipale verkiesing te stem.

Volgens Cosatu in Wes-Transvaal is verskeie plase by Ventersdorp, Stella en Groot Marico besoek waar werkers tydens die vorige verkiesings glo nie tyd gegun is om te gaan stem nie.

Die vakverbond dreig om honderde lede op stemdag na plase te stuur om te sorg dat daar voldoen word aan sy eis.

Daar is voorts gedreig dat aksie geneem sal word teen enige werkgewer of boer wat werkers verhoed om te gaan stem.