Clocolan boere meer paraat na aanval

Boere is na dese meer paraat as voorheen na ‘n onlangse aanval op ‘n boer en sy gesin in die Clocolan-omgewing.

Só het die voorsitter van die plaaslike landbouvereniging, Hennie Vermaak, gereageer nadat die Du Rand-gesin in hul plaashuis aangehou, vasgebind en beroof is.

Vier van die aanvallers, waarvan twee gewapen was, het Carl du Randt, sy vrou, Lydia en hul agtjarige seun, Carl, ingewag terwyl die ander drie buite gewag het. Geld en ‘n jaggeweer is uit die kluis gesteel en huisware is gebuit.

Carl (jr.) kon daarin slaag om homself los te wikkel en het hulp oor ‘n tweerigtingradio ontbied. 

Die sewe rowers het met Du Randt se Nissan-bakkie ontvlug en van die boere wat op die noodroep gereageer het, het hulle teëgekom.

Die bende het die bakkie gelos en weggehardloop. Hulle het vermoedelik deur die leë Caledonrivier na Lesotho ontsnap.

Vermaak het gemaan dat mense daadwerklik moet optree om hulle eie veiligheid te verskerp deur meer van nut vir mekaar te wees.