Byl aanvaller in Duitsland beseer talle

‘n Jong vlugteling van Afgaanse afkoms het chaos veroorsaak toe hy mense tydens ’n treinrit in Duitsland met ’n byl aangeval het.

Die 17-jarige aanvaller het minstens vier mense ernstig beseer in die trein wat onderweg was vanaf Würzburg na Ochsenfurt toe hy met ’n byl en ’n mes verskeie mede-passasiers aangeval het.

Die Beierse minister van binnenlandse sake, Joachim Herrmann, het die inligting Dinsdagoggend aan die media vrygestel.

Die aanvaller het by die eerste stop van die trein afgespring en op die vlug geslaan, maar is agtervolg deur ’n polisiebeampte wat in die omgewing aan diens was.

Die Afgaan het skielik omgedraai en wou die polisiebeampte aanval met die byl, maar is op ’n kort afstand doodgeskiet.

Die 17 jarige het glo sonder sy ouers vanaf Afganistan na Duitsland gereis en verblyf bekom in Ochsenfurt as sogenaamde asielsoeker, en is later ingeneem by ’n pleegsorg inrigting.

Dit is nie bekend of die aanvaller ’n lid van die Islamitiese Staat is nie, en die motief vir die aanvalle is nog onbekend.

Die minister het later gesê dit is goed dat die polisiebeampte die jongman doodgeskiet het wat waarskynlik nog mense sou wou aanval.