Britte kry dalk vroulike premier

Die moontlikheid dat Brittanje weer ’n vroulike eerste minister kry, word ’n al sterker moontlikheid volgens die mening van verskeie politieke kenners.

Aan die eenkant is Andrea Leadsom, ’n sterk ondersteuner van Brexit wat ook van mening is dat die Britte nou ’n leier nodig het wat Brittanje sal lei na nuwe hoogtes buite die Europese Unie.

Sy het ’n noukeurige studie van die Britse “ystervrou”, Margaret Thatcher, gemaak en sê sy gaan probeer om in haar voetspore te volg.

Sy word egter verkwalik omdat sy eers ten gunste van Brexit was, toe daarteen en later weer ten gunste daarvan gepraat het.

Haar sterkste teenstander sal waarskynlik Theresa May wees, wat ’n ondersteuner is van Europese Unie lidmaatskap, maar wat reeds verskeie invloedryke Konserwatiewe Party parlementariërs se steun geniet.

Sy het ’n hewige botsing gehad met ’n ander kandidaat, ene Michael Gove, wat deur sommige Konserwatiewes as ’n verraaier beskou word, maar wat ook ’n sterk kandidaat is.

Die ander drie kandidate se kanse word kleiner weens hulle betrokkenheid by die referendum, en hul uitsprake daaroor na die uitslag bekend geword het.

Die eerste rondte van ’n hewige verkiesingstryd tussen die vyf kandidate sal in die “Tories” se vergadering plaasvind waar 192 lede Dinsdag sal stem om die kandidaat wat die minste stemme kry, uit te skakel.

Die volgende stemming vind Donderdag plaas waartydens twee van die oorblywende vier kandidate met die minste stemme, uitgeskakel word

In die finale rondte sal die party se 150,000 lede die geleentheid kry om ’n nuwe premier aan te wys.

Foto – Andrea Leadsom en Theresa May