Brasilië se weermag gereed vir Spele

Tydens ’n simboliese gradeplegtigheid is 200 senior offisiere van die weermag deur die minister van verdediging, Raul Jungmann, amptelik aangewys om die veiligheid van die Olimpiese Spele onder hulle bevel te verseker..

Die Olimpiese Spele begin vroeg in Augustus in Rio de Janeiro, en na afloop daarvan sal die Paralimpiese Spele begin.

Die land se leër, lugmag en vloot is gereed gemaak om met sowat 22,000 manskappe die 64 dae van Olimpiese bedrywighede, die deelnemers, toeskouers en toeriste se veiligheid te verseker.

Die minister van verdediging se die weermag sal 24 uur per dag beskerming bied aan die mense wat in Rio is vir die Spele.

Benewens die duisende weermag soldate, sal ’n sterk polisie teenwoordigheid deurgaans ’n waaksame oog hou oor die gebeure.

Die Islamitiese Staat het gewaarsku dat hy aanvalle beplan op atlete van veral Frankryk, Duitsland en Rusland.

Intussen het die Brasiliaanse polisie meer as 20 verdagte terroriste in hegtenis geneem, en in ’n verklaring gesê die veiligheidsmagte sal elke verdagte opspoor en agter tralies hou tot na afloop van die Spele.

In totaal word 42,000 manskappe in Rio en ander stede waar wedstryde gespeel word, ontplooi.

Regoor die land sal veiligheidsmaatreëls toegep[as word, terwyl 12 skepe, 1,200 voertuie, 70 spesiale voertuie, 34 helikopters, 48 bote en 180 motorfietse word ingespan om veiligheid te verseker.