Bottergeel songesigte vir ‘n vrolike tuin

Sonneblomplante is in die familie Asteraceae en die genus is Helianthus

Ons ken almal die Transvaal- en Vrystaatse sonneblomlande in die somer. Ons weet hoe pragtig vertoon dit. Dit aard mos so goed in hierdie dele van die land en as die son nie warm genoeg is nie, draai dit mos die blomkoppe na die son en dan lyk dit soos ‘n klomp bottergeel gesiggies wat in ‘n spesifieke rigting kyk.

Sonneblomme kan enige tyd van die vroeglente tot middel somer gesaai word. Hulle groei vinnig. Sonneblomplante groei redelik hoog en dig opmekaar. Dit kan tot 3 meter hoog groei. Die stele is lank, grof en harig. Die blare is groot en grof en ook harig en getand met duidelike are. Die blomme groei bo-aan die stingel en is swaar met ‘n ry of twee helder bottergeel blaartjies wat op ‘n groen blarebed groei. Die groot ronde binnekant is vol swart sade en ons almal weet dis ‘n lekkerny vir ons papegaaie.

Die sonneblom is een van die wêreld se belangrikste oliegewasse. Daar word beweer dat dit in Peru ontstaan het, maar sommige historici glo die oorsprong is eintlik Mexico. Oorspronklik is die wortels van die plant geëet en later is die sade gerooster en gebreek om die heerlike binnekant van die saad bloot te stel. Olie word van die ryp sade gemaak. Dit is vandag ons sonneblom kookolie wat meer as enige ander olie in die gaarmaak van kos gebruik word.

Het u geweet dat die kroonblare van die sonneblomme eetbaar is? Dit word reeds lankal as medisyne gebruik vir die herstel van die weefsel in die niere na nierstene en vir allerhande nierkwale. Van die ongepelde sade kan ook ‘n tee gemaak word deur twee eetlepels ongepelde saad in twee koppies water vir 20 minute te kook, dit te laat koud word en dan deur ‘n siffie te gooi. Drink dit twee maal per dag vir ekstra vitamine en minerale. Natuurlik weet ons hoe heerlik is gepelde saad in gesondheidsbrood en beskuit. Daar word ook beweer dat tee ook van sonneblomblare gemaak kan word en dit is goed vir malaria.

Hier volg vir u ‘n resep vir sonneblomknoppe in mosterdsous:

Kook 12 tot 14 gholfbalgrootte stingelknoppe vir ongeveer 6 minute in genoeg water om dit te bedek, dreineer en bedek met vars water. Kook tot sag en dreineer weer. Rangskik die knoppe in ‘n skottel en gooi ‘n goeie tuisgemaakte mosterdsous oor en laat ‘n rukkie staan voor opdiening.

Ons kan gerus ‘n sonneblom of twee in ons tuin plant sodra dit lente is. Dis so pragtig. Dit sal veral teen ‘n sonnige heining aan die agterkant van ‘n blombedding aard. Dit moet in volson geplant word en gee oorvloedig kompos. Druk die sade 2 cm diep en 30 cm uitmekaar in die klam grond. Gee genoeg water na die saad geplant is en moenie dat dit uitdroog nie. Die saad ontkiem vinnig en dit groei ook vinnig.

Geniet die geel gesiggies in u tuin.