Birma se nuwe regering na 100 dae

Dit is net meer as drie maande nadat die Demokratiese Party die bewind oorgeneem het van die jarelange militêre owerheid in Myanmar.

Verlede November het die nuwe regering van Aung San Suu Kyi die bewind oorgeneem, maar die Nobel-pryswenner kon nie as president van die land ingestel word nie omdat sy met ’n Britse burger getroud is.

Sy het egter haar goeie vriend as president voorgestel, en onder die leiding van Htin Kyaw as nuut verkose president, is baie hervormings reeds ingestel om die land op ’n demokratiese weg te kry.

President Htin Kyaw is wel die amptelike regeringshoof, maar dit is bekend dat Aung San Suu Kyi die werklike dryfveer is om die land te stuur in ’n rigting weg van militariste as heersers.

Te midde van die nuwe administrasie en die land se minerale rykdomme, is die grootste deel van die 53 miljoen inwoners steeds armoedig.

Alhoewel geen regering baie kan vermag in die eerste 100 dae in die regering nie, het talle hervormings reeds ’n verskil gemaak aan die land en sy mense.

Die gedurige teenkanting van die militariste wat ’n permanente sitting in die parlement het, veroorsaak egter vertraging op vele terreine.

Aung San Suu Kyi wil desondanks haar vader se ideale vir die geteisterde land volvoer, maar daarvoor het sy en haar regering meer as 100 dae nodig.

Politieke ontleders in die land sê die enigste probleem wat te bowe gekom moet word, is om ’n langtermyn strategie uit te werk, wat tans nog ontbreek.

Foto – Aung San Suu Kyi