Betoging op "Swart Vrydag" by SAUK oor sensuur

Joernaliste van regoor die land, gewone lede van die publiek en vakbondlede sal na verwagting vandag deelneem aan die “Swart Vrydag” protesoptrede by die SAUK om personeellede te ondersteun en bewaar te maak teen toenemende sensuur deur die uitsaaier.

Intussen word verwag dat die dissiplinêre optrede teen ses senior personeellede van die SAUK reeds teen 9:00 vandag sal begin nadat hulle eers gister teen 12:00 daarvan verwittig is.

Volgens die uitsaai vakbond Bemawu se woordvoerder, Hannes du Buisson, voldoen die aanklagte nie aan die SAUK se dissiplinêre kode nie. In die 20 jaar wat hy by die SAUK betrokke is, het hulle nog nooit minder as 24 uur kennis in dissiplinêre gevalle gegee nie. Hy het dit as ‘n duidelike viktimisasie en geboelie beskryf.

Ntuli, Krivani Pillay en Jacques Steenkamp is daarvan aangekla dat hulle die brief wat hulle geskryf het aan die SAUK se bedryfshoof, Hlaudi Motsoeneng, aan die media gelek het.

Die joernaliste word ook daarvan aangekla dat hulle met verskillende koerante gepraat het sonder dat hulle toestemming gehad het om dit te doen.

In die brief het hulle hul ongelukkigheid oorgedra oor die redaksionele beleid van die SAUK.

Die ander drie joernaliste is Foeta Krige, Suna Venter en Thandeka Gqubule wat vroeër geskors is omdat hulle hul nie kon “vereenselwig” met ‘n opdrag om nie oor ‘n betoging by die SAUK verslaggewing te doen nie.

Motsoeneng het ondanks die toenemende druk van verskeie organisasies en uit opposisie geledere die afgelope week personeellede meegedeel dat dit reg of weg is, en dat hulle hul moet neerlê by sy dekrete.

Foto – Hlaudi Motsoeneng