Australië word verleentheid gespaar

Dit blyk dat Australië die verleentheid gespaar word om weer ’n keer na die stembus te gaan in ’n poging om ’n meerderheidsregering saam te stel.

Eerste minister Malcolm Turnbull is redelik seker dat hy nou ’n meerderheid het in die federale regering nadat ’n onafhanklike van Queensland, Bob Katter, die naweek sy kragte aangebied het om deel van die koalisieregering te vorm, om sodoende ’n meerderheid te vestig.

Kort daarna het hy ook die onverwagse steun van nog ’n onafhanklike parlementslid, Cathy McGowan, gekry om daarmee ’n meerderheid te kry.

Vrydagmiddag het ’n derde verkose onafhanklike parlementslid van Tasmanië, Andrew Willkie, ook sy steun gegee.

Bill Shorten van die opposisieparty het egter gesê die kiesers moet hulle gereedmaak om voor die einde van die jaar weer na die stembus te gaan.

Dit is bekend dat verskeie leiersfigure in die koalisieregering van Turnbull nie tevrede is met die wyse waarop hy vroeër die land bestuur het nie, en die moontlikheid van hernude konflik kan lei tot ’n opvolg verkiesing.

Intussen blyk dit dat Australië die verleentheid gespaar is om soos Spanje, te sukkel om ’n regering saam te stel.

Foto – Eerste minister Malcolm Turnbull