ANC trap klei oor SAUK sensuur

Die ANC se ‘ringkoppe’ vergader vandag by Luthuli-huis om te besin oor wat hulle te doen staan omtrent die SAUK.

Een daarvan is sekerlik of die SAUK-bedryfshoof, Hlaudi Motsoeneng, op die altaar geplaas sal word. Waarskynlik net om later in die netwerk van kaders weer herontplooi te word.

Die SAUK-raad en die minister van kommunikasie Faith Muthambi het tot dusver bankvas agter Motsoeneng gestaan, en is dus ook streng gesproke op die rooi tapyt. Al is dit net ‘n rooi kleur omdat die ANC se hoofkantoor dit op bruikleen by die SAKP gekry het.

Die ANC se vergadering volg ná die uitoefening van toenemende druk oor die toepassing van sensuur by die SAUK.

Die weerstand teen SAUK-sensuur was sodanig dat daar dalk vir eers daarvan afgesien sal word na hierdie oefening deur die ANC en van sy alliansievennote om die klimaat daarvoor te skep en te toets.

Daar is volgens nuusberiggewing verdeeldheid in die ANC oor die SAUK se sensuur, maar die ANC-hoof en land se eintlike baas, Gwede Mantashe, sal waarskynlik poog om hulle tot ‘n verenigde kommunistiese front uit een mond te laat praat.