Aanvallers se borgaansoek verwag

Twee verdagtes wat in hegtenis geneem is in verband met ‘n uiters wrede aanval op ‘n bejaarde egpaar op hul plaas in die Verkykerskop-distrik sal na verwagting later vandeesmaand aansoek om borgtog doen.

Wetsie Malilga en sy vriend, Dimboy Mosia, (albei 24 jaar) is ‘n paar dae na die aanval op Bertus van Wyk en sy vrou, Trudie, in hegtenis geneem.

Mililga is deur die polisie aangekeer op ‘n aanklag van inbraak by ‘n plaaslik skool op Memel, waarna Mosia aangekeer is.

Albei die verdagtes sal weer op 18 Julie in die hof verskyn nadat hulle vandeesweek in die landdroshof op Harrismith op aanklagte van huisbraak weens die aanval op die Van Wyk-egpaar verskyn het.

Die egpaar se silwer Mazda dubbelkajuit bakkies waarmee die twee aanvallers gevlug het, is enkele dae na die voorval op 28 Junie verlate in Ladysmith in Natal gekry. Hulle het ook met kontant, ‘n skootrekenaar en die egpaar se bankkaarte ontvlug.

Hulle het die egpaar gedreig dat hulle sou terugkom indien die geheime nommers van hul bankkaarte nie korrek is nie.

Foto – Memel padbordjie