Aanslag op VW misluk

Die aanslag van Amerika om die Duitse motorvervaardiger, Volkswagen, finansieel te vernietig, blyk ’n klaaglike mislukking te wees.

Te midde van die meer as 15 miljard euro wat Volkswagen beskikbaar stel as vergoeding aan Amerikaanse eienaars van dieselmotors, het drie deelstate met ’n afsonderlike hofgeding begin in ’n poging om die vervaardiger finansieel te knak.

Beleggers het intussen weer oor hulle voete geval om Volkswagen-aandele te bekom nadat dit bekend geword het dat die tweede grootste motorvervaardiger ’n veel groter wins toon as wat verwag is.

In ’n tussentydse opdatering van die maatskappy se finansiële resultate vir die eerste helfte van die jaar, word ’n wins van 7,5 miljard euro getoon, wat aansienlik meer is as wat die maatskappy verwag het.

Volkswagen sê in sy verslag dat die goeie resultate teweeggebring is vanweë die koste besparingsmaatreëls en dramatiese styging in voertuig verkope.

Die verhoogde wins is bykans een miljard euro meer as wat aanvanklik deur die bestuur verwag is.

Volkswagen het sowat ses maande gelede ’n nuwe span in die topbestuur aangewys wat onder meer van die mees bekwame sakemanne in Duitsland uitmaak.

Met die aankondiging van die verbeterde resultate, het die maatskappy se aandele op die Frankfurtse beurs met meer as 5% gestyg, en finansiële ontleders sê die aandele gaan nog verder klim binne die volgende paar dae.