Zuma moet net R7,8 miljoen betaal

‘n Bedrag van R7,8 miljoen sal binne 45 dae deur president Jacob Zuma betaal moet word vir opgraderings wat niks met veiligheid by sy privaat woonkompleks by Nkandla te doen het nie, sodra die tesourie se verslag hieroor deur die grondwetlike hof goedgekeur is.

Die tesourie het ‘n verslag hieroor by die grondwetlike hof ingedien nadat die hof die openbare beskermer (OB) se bevindinge rakende die kwessie bekragtig het.

Die tesourie het die opdrag gehad om die “redelike koste” te bereken van die nie-veiligheidsmaatreëls wat deur die departement van openbare werke by Nkandla aangebring is.

Die items van die altesaam R246 miljoen se opgraderings wat uitgesonder is, sluit ‘n besoekersentrum, amfiteater, beeskraal, hoenderhokke en swembad (‘n sogenaamde brandpoel) in.

Dit is in ooreenstemming met die bevindinge in ‘n verslag wat reeds twee jaar gelede deur die OB, Thuli Madonsela, vrygestel is.

Die tesourie is 60 dae deur die hof vergun om die berekening te doen, en het opdrag gegee dat die president die bedrag binne 45 dae sal moet betaal.

Foto – Nkandla