TLU SA steun vreeslose joernaliste

Die beperkings wat tans op joernaliste van die openbare uitsaaier geplaas word rakende rapportering van nuus, is ‘n verdere aanduiding van die sieklike magsbeheptheid van die regering en die instellings onder sy beheer.

Só het TLU SA se president, mnr. Louis Meintjes, hom in ‘n verklaring uitgelaat oor die onstuimigheid by die SABC.

Hy sê dat die sensuur op nuus ernstige implikasies vir die land kan inhou. “As joernaliste nie meer toegelaat word om feite te rapporteer nie, sal die publiek nie meer weet as geld vir ‘n Nkandla misbruik word nie, wanneer sogenaamde grondhervormingsprojekte misluk of wanneer droogte of politieke beleid die kos op ons tafels gaan bedreig nie.

“Vroeër vanjaar het mnr. Zuma al op rekord gegaan dat hy die land stuur na sosialisme en kommunisme. Dit is duidelik dat dit nie net gaan oor die ekonomie nie, maar ook in die perswese.

“TLU SA het die grootste respek vir dié joernaliste wat vreesloos opkom vir die reg van Vryheid van spraak en eerlike nuusdekking. Hulle kan op ons steun reken,” sê mnr. Meintjes.

Foto – mnr. Louis Meintjes