Skryfster Margaret Bakkes oorlede

Die bekende Afrikaanse skryfster, Margaret Bakkes, is vandeesweek in die ouderdom van 84 jaar in die Paarl oorlede.

Haar literêre nalatenskap aan Afrikaans omvat ‘n oeuvre van meer as 30 boeke. Sy sal onder meer onthou word vir die historiese verhale – Susanna die geliefde(1988) en Kroniek van die sewe blou waens: die kort lewe van Gert Maritz.

In 1989 het sy die Helpmekaar-prys ontvang vir Susanna die geliefde. Hierdie uiters aangrypende verhaal handel oor die suster van Gert Maritz, Susanna Smit, en haar gedwonge huwelik met ‘n veel ouer Erasmus Smit.

In 1999 is Susanna die geliefde vir die verhoog aangepas en het Joanie Combrink Susanne Beyers en Johann Nel die rolle vertolk.

Op haar 80ste verjaarsdag in 2011 is haar jongste boek, Fado vir ‘n vreemdeling, deur Lapa gepubliseer.

Margaret Magdel Bakkes is op 14 Desember 1931 op ‘n plaas in die distrik Sterkstroom in die Stormberge gebore. Sy is die oudste kind van Hendrik Aucamp en Mathilda de Villiers. Die bekende kortverhaalskrywer, Hennie Aucamp, was haar kleinneef.

Haar heel eerste kortverhaal is in 1954 in Rooi Rose gepubliseer.

Van haar kortverhale is in Nederlands vertaal en van haar skryfwerk is in die Vlaamse tydskrif, ZAN, gepubliseer.

Verskeie van haar kortverhale is in versamelbundels soos Vertellers, Die Afrikaanse kortverhaalboek, Hoogtepunte in die Afrikaanse kortverhaalkuns, Dogters van Afrika, Wys my waar is Timboektoe, Boere-oorlogstories, en Uit die kontreie vandaan opgeneem.

Haar man, die historikus Cas Bakkes, is in Januarie na ‘n lang siekte in die ouderdom van 90 oorlede.

Sy word oorleef deur drie seuns – Johan, Marius en Christiaan – en ‘n dogter, Mathilda, wat in Kanada woon, en vyf kleinkinders. Johan en Christiaan is bekend vir hul avontuur- en reisverhale.

Foto – Kroniek van die sewe blou waens