Skroewe aangedraai oor SAUK sensuur

Druk is aan die opbou dat vryheid van spraak en persvryheid dringend bekyk moet word namate al hoe meer SAUK-personeel in die slag bly weens die hoogs omstrede bedryfshoof Hlaudi Motsoeneng se lang lys beperkings.

Nog drie werknemers se koppe kan rol nadat hulle ‘n sterk bewoorde brief oor die sensuur wat Motsoeneng by die uitsaaier toepas aan hom en ander uitvoerende personeellede gestuur het.

Die uitvoerende vervaardiger van Special Assignment, Busi Ntuli, en die uitvoerende vervaardiger van SAfm se aktuele programme en ‘n senior ondersoekende joernalis, Jacques Steenkamp se brief handel onder meer oor onduidelikheid oor hul joernalistieke pligte.

Dit volg kort nadat drie senior joernaliste, Foeta Krige, Thandeka Gqubule en Suna Venter onbepaald geskors is.

Onlangse besluite wat geneem is, is deur die briefskrywers as sensuur beskryf, en is strydig met die uitsaaier se redaksionele beleid, die Uitsaaiwet en die Grondwet.

Hulle het voorts hul skok uitgespreek oor Motsoeneng se besluit dat gewelddadige betogings nie meer uitgesaai mag word nie omdat dit nie strook met die uitsaaier se mandaat nie.

Die waarnemende groepshoof van die SAUK, Jimi Matthews, het ondertussen sy bedanking bekend gemaak omdat “dit wat by die SAUK gebeur verkeerd is.”

Die Suid-Afrikaanse Redakteursforum (Sanef) beskou die gebeure in ‘n baie ernstige lig en het onderneem om aan die SAUK te skryf om joernaliste se reg op die vryheid van denke en uitdrukking te respekteer.

Die uitsaaiers is intussen deur ‘n vakbond tot 30 Junie kans gegee om die drie geskorste joernaliste weer in hulle poste te herstel.

Indien dit nie sou gebeur nie sal hulle ’n dringende aansoek in die arbeidshof bring dat dit wel gedoen word.

Die vakbond en die Freedom of Expression Institute (FXI) voer intussen samesprekings om te kyk hoe hulle kan saamwerk. Die FXI oorweeg stappe om aansoek te doen om direkte toegang tot die grondwetlike hof sodat sake oor vryheid van spraak en persvryheid aangespreek kan word.

Foto – SAUK se Hlaudi Motsoeneng