Skoolinbrekers op Memel ook plaasaanvallers

Die twee vermeende plaasaanvallers is aangekeer wat ‘n Vrystaatse boer, Bertus van Wyk en sy vrou, Trudie op die plaas Christina by Verkykerskop in die Memel-distrik uiters wreedaardig aangerand en beroof het.

Hulle is vroeër deur speurders in hegtenis geneem in verband met ‘n inbraak by ‘n skool op Memel, waarna die Valke bevestig het dat hulle dieselfde verdagtes is wat in verband met die betrokke plaasaanval gesoek word.

Hulle het die egpaar op 17 Junie met staalsparre aangerand en hulle beserings is deur hul buurman en leier van die VF Plus in die Vrystaat, Jan van Niekerk, as skokkend beskryf.

Die Van Wyks se Mazda-dubbelkajuitbakkie, wat tydens die aanval gebuit is, is sedertdien ook teruggevind. Die aanvallers het twee selfone, ‘n skootrekenaar, kontant asook die egpaar se bankkaarte gesteel. Sowat R3 000 is uit die Van Wyks se bankrekeninge onttrek. Die twee aanvallers het die egpaar gedreig dat hulle sou terugkeer indien hulle nie die regte geheime banknommers aan hulle verskaf nie.

Die twee verdagtes het reeds vandeesweek in die hof verskyn op ‘n klag van inbraak by die skool. Hulle is borgtog geweier op grond van hulle tweede misdaad, naamlik die aanval op die Van Wyks.

Volgens Van Niekerk het een van die twee mans onlangs uit die tronk gekom na ‘n vonnis van vyf jaar vir huisbraak, waarvan hy twee jaar uitgedien het.

Hulle sal aanstaande week in Harrismith in die hof verskyn, maar ‘n hofdatum is nog nie vasgestel nie.