Seun steeds in hoësorg na hiëna aangeval

Die jong seun wat deur ‘n hiëna aangeval is, is steeds in die hoësorgeenheid van die Milpark-hospitaal in Johannesburg, waar hy onder verdowing gehou word.

Hy maak egter goeie vordering en reageer op die dokters en verpleegsters in die eenheid.

Vyf spesialiste het Erco (Boela) Janse van Rensburg (15 jaar) se gesig weer gerekonstrueer nadat hy ernstige gesigsbesering opgedoen het toe die hiëna hom gebyt het.

Erco het saam met sy gesin by die Krokodilbrug-kamp in die Krugerwildtuin gekamp toe die dier hom sowat 30 meter uit sy tent gesleep het. Sy oom, Johan Janse van Rensburg het wakker geword weens ‘n harde geluid en het gaan ondersoek instel.

Hy het op die dier afgestorm en geskreeu, waarna die hiëna Erco gelos het.

Hy is aanvanklik na die Mediclinic op Nelspruit gehaas, maar is per helikopter na die Milpark-hospitaal geneem.

Hy sal nog verskeie chirurgiese operasies moet ondergaan om die skade wat aangerig is te herstel en word ook voorkomend teen hondsdolheid behandel. Hy het ernstige beserings aan sy oë asook die bene en weefsel in sy gesig opgedoen.

Erco, sy ouers, Erno en Cashandra Janse van Rensburg, en sy twee susters, Zelia (16 jaar) en Kyla (11 jaar) woon in Irene, Pretoria.