SAUK – minister eggo ANC oor woelinge

Die tydsberekening van die waarnemende uitvoerende groepshoof van die SAUK, Jimi Matthews, se bedanking is verdag.

Só het die minister van kommunikasie, Faith Muthambi,  in ‘n verklaring gereageer op die woelinge by die openbare uitsaaier.

Muthambi het sodoende Matthews se motiewe om te bedank, bevraagteken.

Sy was teenwoordig by ‘n lang perskonferensie van die SAUK wat deur die hoogs omtrede SAUK-bedryfshoof, Hlaudi Motsoeneng, afgesluit is met die woorde: “Los Hlaudi uit!”

Muthambi het eintlik net die ANC-woordvoerder, Zizi Kodwa se vroeëre bevraagtekening van Matthews se motiewe geëggo. Sy bedanking voor ‘n verkiesing is aldus Kodwa dalk van buite georkestreer en is daarop gemik om tot destabiliteit te lei.