Raak ontslae van Engels by EU

Dit is nie net die Boere-Afrikaners wat ’n wrewel het teen die taal van die onderdrukker nie, want verskeie lande, en veral die Franse is van mening dat die taalgebruik in Europese Unie vergaderings moet verander.

Met Brittanje wat nou uit die EU bedank het, wil die Franse politici die geleentheid gebruik om Engels te kelder.

Die Franse glo dit is onnodig om die dominerende Engels langer te duld aangesien die ander lande nie juis gretig is om hulle standpunt in die Britte se taal oor te dra nie.

“Engels kan nie langer een van die drie werkstale in die Europese Parlement wees nie, was die uitspraak van Jean-Luc Mélenchon, die leier van die linkse “Parti de Gauche” in Frankryk.

Selfs die regse burgemeester van die stad Beziers, in Frankryk, het te kenne gegee dat Engels in die ban gedoen moet word in die EU Parlement.

Hy het sy frustrasie teen die Britte ook te kenne gegee deur sy aanbeveling dat alle onwettige migrante wat van Brittanje afkomstig is, na die land teruggestuur moet word.

Frankryk is reeds etlike jare ontevrede oor die feit dat Engels bo Frans geplaas is op die lys van tale wat gebesig word, veral omdat Frankryk ’n stigterslid is van die EU en Brittanje eers in 1973 lid geword het.

Tot 1995 was Frans die voertaal in die vergadering van die Europese Kommissie, maar toe die Franse burger, Jacques Delors, as voorsitter uittree, het Shakespeare se taal oorgeneem.

Die Poolse verteenwoordiger het ook gesê dit is nodig dat die lidlande se tale eweredige beurte moet kry, en Engels moet nie bevoordeel word nie.