Petisie begin om SAUK te bevry

‘n Petisie is aanlyn begin met die oproep, “bevry die SAUK van sensuur en politieke inmenging”.

Op die petisie word die openbare uitsaaier se verantwoordelikhede na aanleiding van die SAUK se eie mandaat uiteengesit.

Hierna word ‘n stel eise gestel , waarvan een is dat die SAUK aan sy eie mandaat moet voldoen. Nog een is dat die geboelie, intimidasie en suiweringsveldtog teen joernaliste gestaak moet word.

En dan die mededeling omtrent ‘n beloning van R100 000 aan enigiemand wat inligting verskaf oor iemand wat inligting van die SAUK ‘gelek’ het. Hierdie praktyk van “spioen vs spioen” moet onmiddellik gestaak word, word in die petisie geëis.

Senior bestuurders en joernaliste van die SAUK het ondertussen gedreig om te staak indien daar nie ‘n vergadering met die bedryfshoof, Hlaudi Motsoeneng en die raad gehou word ná die bedanking van die waarnemende groepshoof, Jimi Matthews nie.

Die personeel het aangedui dat hulle werk toe sal gaan, maar nie nuus sal produseer nie indien die vergadering glad nie plaasvind nie.

Groot ongelukkigheid heers by die uitsaaier oor Motsoeneng wat “heers soos ‘n diktator” volgens joernaliste wat verkies het om anoniem te bly.

Drie senior joernaliste is verlede week geskors by die uitsaaier, waarna drie ander senior personeellede oor die naweek ‘n dringende brief aan Motsoeneng gerig het. Matthews het sy bedanking kort daarna aangekondig.

Foto – Een van die geskorste senior joernaliste, Foeta Krige op Facebook