Partye gevra wie gee hul privaat skenkings

Politieke partye in die parlement moet teen Vrydag hulle privaat skenkings openbaar maak ingevolge ‘n aansoek van die organisasie, My Vote Counts, op grond van die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting.

Die poging volg nadat die organisasie verlede jaar ’n hofsaak in die grondwetlike hof verloor het oor die privaat skenkings wat politieke partye ontvang.

Die organisasie het op 31 Mei vanjaar op grond van die wetgewing gevra vir die finansiële inligting van elk van die 13 partye wat in die parlement verteenwoordiging het.

Volgens ‘n koördineerder van My Vote Counts, Janine Ogle, sal regstappe geneem word indien die inligting nie ontvang word sodat dit aan kiesers oorgedra kan word nie.

Volgens haar sal die inligting kiesers in staat stel om ‘n ingeligte besluit by die stembus te neem.