Ortodokse kerkleiers byeen na 1 200 jaar

Leiers van Ortodokse Kerke regoor die wêreld het hulle kommer uitgespreek oor die omstandighede wat Christine in die Midde-Ooste ondervind.

Die kerkleiers het ’n historiese byeenkoms gehou in Griekeland wat ’n eerste vergadering is van die aard sedert 1 200 jaar gelede.

Die Ortodokse Christelike Kerke het ’n week lange Heilige Groot Raad gehou op Kreta, die wêreldbekende Griekse eiland.

In ’n dokument wat vrygestel is, pleit die leiers dat regerings in die Midde-Ooste beskerming moet bied aan Christen gelowiges in die streek.

In ’n gesamentlike verklaring sê die tien kerkleiers wat die geleentheid bygewoon het, dat hulle beplan om in die toekoms elke sewe jaar ’n soortgelyke byeenkoms van die Heilige Groot Raad te hou.

Die Russiese Ortodokse Patriarg Kerk wat sowat 130 miljoen Ortodokse Christene verteenwoordig, het nie die byeenkoms bygewoon nie omdat hulle die “reëlings as onvoldoende” beskou het.  

Die Ortodokse Kerke van Sirië, Georgië en Bulgarye was ook afwesig, alhoewel dit nie bekend is watter redes aangevoer is nie.

Ortodokse kerke is onafhanklik, en daar is 14 outonome kerke wêreldwyd, met die Patriarg van Konstantinopel, Bartholomeüs I, wat beskou word as “die eerste onder die gelykes”.