Op die Volksakker – Die wese van Afrikanerskap

Vandag verskyn Op die Volksakker se 100ste rubriek.

 

In lig van soveel wat rondom ons letterlik en figuurlik ineenstort en terwyl die skokkende omvang van die aanslag uit liberaal-humanistiese, Afrikaanssprekende kring, sal dit ons loon om bietjie terug te kyk.

 

Want net deur terug te kyk, sal die Afrikaner kan fokus op die beste pad vorentoe.

 

Wanneer ons terugkyk, moet ons leer uit die hoogte-, maar veral die laagtepunte van ons geskiedenis.

Op 16 Junie het ons terug gedink aan die Bittereinders en die gruwelike volksmoord van 1900-02.

Maar uit daardie as en pyn het die Afrikaner ´n Eerstewêreldland gebou!

 

Wanneer ons terugkyk, kan ons hoop put uit verhale van ´n klein volkie, waaruit ´n nog kleiner minderheid telkens die versiendheid en visie gehad het om te bou met die oog op môre, oormôre en verder – om te bou vir geslagte wat hulle dalk nie sou sien sien.

 

Veral het daardie klein, opregte volkskern altyd onbaatsugtig gebou met net een doel voor oog – die toekomsbelang van ons volk. 

Nimmer was hul deur eiebelang of kortsigtige ambisies mislei om kort paaie te neem of om hand-aan-hand met die vyande van ons volk te werk nie.

 

Ons moet ook raaksien dat die wese van Afrikanerskap, die staal wat ons volk deur goeie en maer jare gedra en gevorm het, was die getroue gehoorsaamheid aan die Woord, elke dag op elke terrein – Calvinisme, ´n opregte uitleef van Soli Deo gloria.

 

Aan moedersknie is Skrifwaarhede geleer en ingeprent.

Dit sal ons dus ook loon om oor byna agt dekades te luister na die volksoproep van doktor DF Malan, om terug te draai na die huisaltaar, om weer op te staan vir volksdiens, bereid om te werk en te dien eerder as om gedien te word soos die (mis)leiers van vandag.

 

Dan sal ons en ons kinders weer trots wees op wie en wat ons is – lede van ´n Christenvolk!

 

Eers dan sal volksgenote ook besef dat volksbelang bó eiebelang gestel moet word indien ons weer die geleentheid wil verdien om ons eie land en ons vryheid te herwin.

 

Want, om in die waan te lewe dat ons kan hunker na die goeie van gister, sonder bereidheid tot dieselfde offers en dankbaarheidslewe as gister, sal net bevestig dat ons volk nog geensins gereed is vir dieselfde vryheid as gister nie.