Hoewe-aanvalle eis twee lewens

Die oud-tydrenjaer en Springbok-fietsryer, Jan Hettema, is op sy kleinhoewe op die Boschkoppad doodgeskiet toe hy deur twee aanvallers oorval is.

Hettema (83 jaar) se vrou, die huishulp en haar baba is Woensdagoggend in ‘n kas toegesluit en die aanvallers het die huis omgekeer. Dit is nog nie bekend of enigiets gesteel is nie.

Sy dogter, Helena Hettema, is ‘n bekende Afrikaanse sangeres.

In nog ‘n hoewe-aanval op dieselfde dag is ‘n vrou by Roodeplaat, noordoos van Pretoria op die Kameelfonteinpad doodgeskiet  en ‘n man beseer. Hy is in die hospitaal opgeneem, maar sy toestand is onbekend.

Die aanval het volgens die polisie in die vroeë oggendure plaasgevind. Forensiese ondersoekers is nog op die toneel. Meer inligting sal bekend gemaak word sodra die ondersoek afgehandel is.

Foto – Jan Hettema (Facebook)