Hoewe aanval – tragedie tref weer man

Tragedie het vir die tweede keer ‘n sakeman van Pretoria getref toe sy tweede vrou op dieselfde hoewe doodgeskiet is as waar sy eerste vrou ook vermoor is.

Jurie Steenberg se tweede vrou, Riekie, is Woensdagoggend op hul hoewe by Kameelfontein, noordoos van Pretoria vermoor. Hy is in die Netcare Montana-hospitaal opgeneem.

Die polisie vermoed daar was drie verdagtes betrokke by die aanval. Hulle het selfone en ‘n vuurwapen gesteel tydens hulle moordtog Woensdagoggend tussen 4:30 en 6:00.

Die polisie ondersoek klagte van moord, poging tot moord en huisroof.

Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Jurie Steenberg se eerste vrou, Suna, is op 16 April 2010 gedurende die dag tydens ‘n aanval op kort afstand in die kop geskiet.

Twee aanvallers het destyds by die hoewe opgedaag en in die huis gestap, terwyl ‘n aflewering van behandelde pale gedoen is. Suna het op die gille van haar skoonma in die huis gereageer en op hulle losgebrand, maar sy is ontwapen, aangerand en geskiet. Haar man was nie tuis tydens die aanval nie. Niks is destyds geroof nie.

Sy was bykans ses maande lank in ‘n koma voordat sy oorlede is.