Hettema probeer hom en sy vrou verskans

Die tydrenjaer en kampioenfietryer, Jan Hettema (83 jaar), het probeer om hom en sy vrou in hul slaapkamer te verskans tydens ‘n aanval op hul Boschkop-hoewe, oos van Pretoria.

Die aanvallers het binne sekondes die deur afgebreek en hom kombuis toe geneem waar hulle hom in die gesig geskiet het.

Die aanval was die derde een in minder as ‘n maand in die gebied, waarvan twee aanvalle gedurende die dag was.

Hettema het teen 8:00 die oggend geluide by sy wattelbome gehoor en het ondersoek gaan instel omdat hy vermoed hulle is besig om die bome af te kap.

Toe hy die gewapende aanvallers met klapmusse sien, het hy teruggehardloop huis toe en geskreeu: “Sluit die deur, sluit die deur,” het ‘n buurman vertel op sterkte van wat hy meegedeel is.

Elsa, hul huiswerker en haar kind is vasgebind. Sy kon na bykans ‘n uur daarin slaag om los te kom en het hulp ontbied.

Klere, kontant, ‘n vuurwapen, selfone en ‘n skootrekenaar is geroof.

Hettema se dogter, die bekende Afrikaanse sangeres, Helena Hettema, was met vakansie in Suidwes-Afrika toe sy die nuus ontvang het.

Niemand is nog in verband met die moord- en rooftog in hegtenis geneem nie.

Jan Hettema was ‘n vyfmalige Suid-Afrikaanse tydrenkampioen en ‘n dubbele Springbok (in fietry en motorsport).