Heksejag teen Sodwana gastehuis op dreef

Die eienaar van ‘n gastehuis op Sodwanabaai is van haatspraak, onwettige handeldryf en ontduiking van belasting aangekla.

Die Natalse LUR vir toerisme, Sihle Zikalala, het met sy hele gevolg op Sodwanabaai opgedaag en het by die plaaslike polisiestasie die aanklagte teen André Slade aanhangig gemaak.

Volgens Zikalala bedryf Slade die gastehuis sonder die nodige lisensie en daar word vermoed dat hy sy belastingverpligtinge nie na behore nagekom het nie.

Zikalala het ‘n vergadering met plaaslike besigheidseienaars en verteenwoordigers van die toerismebedryf gehou, en het beoog om die gastehuis te besoek.

Die Menseregtekommissie ondersoek ook die saak nadat Slade onlangs in ‘n e-pos ‘n voornemende gas meegedeel het dat sy gastehuis nie meer swartmense en staatsamptenare akkommodeer nie. Die betrokke swart vrou het sy antwoord op sosiale media geplaas waar dit toe die verwagte reaksie ontlok het.

Slade het ‘n radio-aanbieder meegedeel hy glo apartheid was gebaseer op die wette van Christenskap en net soos ‘n appelkoos en ‘n perske is ons nie dieselfde nie.

Foto – Die e-pos van Slade is op sosiale media geplaas