Geen staking van petrolaflewering

Die Suid-Afrikaanse Brandstofhandelaarsorganisasie (Sapra) het gerugte ontken oor ‘n dreigende staking van brandstofaflewering wat op sosiale media gesirkuleer word.

Chevron SA en die chemiese vakbond, Ceppwawu, het vroeër gesê hulle weet nie wie die vals stakingskennisgewing begin het nie.

Chevron SA se kommunikasiebestuurder, Suzanne Pullinger, het bevestig dat die inligting nie korrek is nie en brandstofaflewering en voorsiening aan vulstasies regoor die land normaal sal bly.

‘n Boodskap wat op WhatApp die rondte gedoen het, het gewaarsku petrol en diesel sal teen Donderdag nie meer by vulstasies beskikbaar wees nie.

Mense is gemaan om seker te maak dat hulle ten alle tye hulle motors se brandstoftenks vol hou.

Daar is ook aangevoer die staking het al Maandag begin, maar is geheim gehou om ‘n stormloop te voorkom.