Bokkieweek – Waterkrisis oorkom

Vanjaar vind die 25ste byeenkoms van die Afrikaner Volkseie Sport (AVS) se Bokkieweek vanaf 4 Julie tot 9 Julie op Kroonstad plaas.

Die Wintersport Bokkieweek behels vyftien unies oor bykans die hele land wat in ouderdomsgroepe met mekaar meeding vir netbal, rugby en hokkie.

Kultuurspanne ding teen mekaar mee deur middel van redenaarskompetisies en vasvrawedstryde. Die AVS groei elke jaar sodat daar vanjaar 3 500 deelnemers is. In Oktober vind die Somersport Bokkieweek plaas.

Vanjaar is daar ‘n ernstige waterkrisis in Kroonstad en munisipale water kan nie aan die Bokkieweek voorsien word nie.

Met opgedroogte reservoirs en ʼn swak infrastruktuur het die munisipaliteit nie vir die droogte voorsiening gemaak nie, maar ‘n boer maak ‘n plan. Al die verblyfplekke wat tydens Bokkieweek 2016 gebruik gaan word, het eie boorgate of water sal deur Bokkieweek aangery word.

Bokkieweek voorsien ook water vir gastehuise met tenks vir ouers en verskaf ook water aan die wyer gemeenskap. Dit danksy die hulp van borge (besighede) en boere in die onmiddellike omgewing van Kroonstad wat water voorsien.

Soos die naam aandui, berus die AVS op die beginsel van die skep van volkseie kultuuraktiwiteite en sportbyeenkomste.

Afrikaner Volkseie Sport het in 1991 ontstaan deurdat ouers, onderwysers en kinders besef het dat hulle steeds kultureel verbonde bly aan die Afrikanervolk as onderskeibare volksentiteit met ʼn sterk drang om ons taal, tradisies en embleem in ere te hou. 

Daarom het AVS die Springbokkop in ʼn lourierkrans as sy embleem gekies. Só is die embleem onderskeibaar van ander embleme wat die Springbok as motief het en sodanig by die Departement van Heraldiek geregistreer.

Dit is veral verblydend dat die Bokkieweek ʼn prestige-geleentheid is met ʼn baie hoë standaard en die deelnemers op meriete gekies word. Die Bokkieweke wat deur AVS gereël word, is interprovinsiale mededinging tussen sportspanne uit die totale binneland en sal uiteindelik die hele Suid-Afrika insluit. By AVS byeenkomste word naas sportkragmetings ook tyd ingeruim vir samesang, redenaarskompetisies, vasvrawedstryde en leierskapskursusse.

Foto – Bokkieweek se embleem