Alles klopdisselboom by die SAUK

Die SAUK-bestuur voer aan dat daar geen krisis by die uitsaaier is nie en dat die bedryfshoof, Hlaudi Motsoeneng, uitstaande werk lewer.

Na aanleiding van die skielike bedanking van die waarnemende uitvoerende groepshoof, Jimi Matthews, het Motsoeneng beweer alles was verlede week Vrydag nog in die haak tussen die uitvoerende bestuurders by die SAUK.

Oor die naweek het sake egter verander, en hy meen dit hang daarmee saam dat daar “’n agenda is om die organisasie te destabiliseer”.

Motsoeneng meen egter dat alles normaal by die uitsaaier voortgaan en dat van die personeel opgewonde is om by die werk te wees.

Die SAUK-voorsitter, prof. Mbuluheni Maguvhe, het op sy beurt aangevoer dat die openbare uitsaaier nie in ‘n krisis is nie en het benadruk dat Motsoeneng hom puik van sy taak kwyt.

Die finansiële hoof van die SAUK, James Aguma, is intussen as die nuwe waarnemende groepshoof aangewys.

Die uitsaai-, elektroniese-, media en verwante werkers vakbond (Bamawu) het aangedui dat alhoewel hulle lede by die SAUK dit nie oorweeg om te staak nie, oorweeg die vakbond regstappe om werknemers se regte te beskerm.